Chromatografie

Vandag was ‘n interessante dag.  Ek moet weens onvoorsiene gebeure alweer vir paar dae my take van die huis af probeer verrig. Dit het begin met ‘n vergadering met Ruan (Kruger Marais), ‘n kollega van die Virologie span by ons lab om ‘n part vir een van hulle pipet-robotte te ontwerp en te 3D-druk.  Hulle toets mos nou daai neusstokkies dat dit klap – paar duisend ‘n dag.  Die ontwerp is redelik eenvoudig en nie veel met my lyn van werk te doen nie, maar daar’s hier en daar nou en dan ‘n nood so dan probeer ons van Chemie maar help.  Ek kla gewoonlik nie, want in die proses kan ek nou en dan iets van ‘n stokperdjie in werkstyd ook verrig…of dit voel ten minste so. En dan verbeel ek my ek’s ‘n ingenieur ook en maak gesofistikeerde tekeninge (van eenvoudige goed).

Dit bring my by die tweede vergadering van die dag: Kalsium, magnesium en fosfaat.  Hierdie drie elemente is die fokus van ‘n praatjie wat ek en ‘n kollega binnekort by ‘n kongres gaan voordra. Ons tel eintlik maar net hoe raak die kalsium, magnesium en fosfaat in die bloed fonkfaai as mense COVID kry, en dan probeer ons slim klink deur terme soos verwysingsveranderingswaarde en delta-waarde te gebruik – ‘n konsep wat nie juis baie deur dokters gebruik word nie, al is dit eintlik belangrik, maar ons dink heelwat daaroor in die lab.  Dit betref die belangrikheid van twee opeenvolgende laboratoriumresultate.  Dit is wiskundig moontlik om te bepaal of twee opeenvolgende laboratoriumresultate werklik betekenisvol van mekaar verskil – ons tel hierdie bymekaar vir almal wat in ons hospitaal met die nuwe siekte opgeneem is, en probeer dan ‘n patroon beskryf.

Die uurlange vergadering was onderbreek deur ‘n ander uurlange vergadering met die Endokrinoloë – een van my gunsteling vergaderings in die week so tweeuur op ‘n Vrydagmiddag waar ons die interessantste, moeilikste of einaardigste gevalle van die afgelope week of so bespreek.  Daar is altyd een of ander geval waar hulle dink ons Chemiese meetinstrumente meet nie die regte chemikalieë nie – maar Abba sê mos, ons weet nou al, dis die “Name of the Game”.  Die heen en weer kommentaar raak nou al ‘n antisipasie so teen die derde geval oor Zoom – nietemin interessant – soos ek eerstens gemeld het.

Ná die uurlange gekombineerde Endokrien-vergadering van vroeër hervat ek en Jody vanaf Muizenberg ons vergadering oor die kalsium, magnesium en fosfaat wat nog twee verdere ure neem.  So met die finale getalle bymekaarsit soos die son sak, begin die twyfel ons beetpak en ons voel soos twee muishonde wat van hulle pelse beroof is, omdat niemand al in die wetenskaplike artikels hieroor geskryf het nie.

Na my aandete, botterskorsiesop, botter en brood, hier teen sewe-tot-nege-uur vanaand, is ek besig met ‘n ander pasiëntgeval wat ek nog aan aandag moet gee.  So met die konsultasie met ‘n ander kollega oor Whatsapp onthou ek van ‘n rekenaarprogram wat ek jare gelede op laerskool ontdek het, maar geen idee gehad het wat dit doen nie. Ek onthou dat ek nog altyd weer daarna wou kyk. So laai ek dit af van die Amerikaanse Gesondheidsinstituut, maak dit oop, laai my prentjie in en na paar berekeninge kry ek die antwoord.

Dis toe nou ImageJ (die program) wat my weer laat dink het oor hoe ek op Chromatografie afgekom het.  So wat is dit? Dit is aan die hand van alle Chemie. Dis in die naam: Skeikunde.  Dis Skeikunde wat ons in staat stel om petrol, diesel en plastiek te kry uit die ruwe wat ons onder die grond uitgrawe.  Dis Skeikunde wat ons in staat stel om botter te maak. Dis hoe jy maas van die vloeibare deel van melk skei om kaas te maak. Dis hoe jy wyn sterkter as wyn kry – dan noem jy dit brandewyn. Dis wat jou longe doen met elke asemteug en dis wat jou neus doen as jy ruik.

Die eerste keer wat ek die woord Chromatografie gehoor het, was in Standerd 7.  Met twee aptekers as ouers, het ek vele male as kind so tussen die pillerakke myself besig moes hou.  Ek was altyd gefassineer deur die reuk van ‘n apteek – maar ‘n apteker wou ek nooit word nie – my ma en pa het te veel gekla daarvoor. Wat ek wel altyd wou weet is hoe goed werk, en so ook pille.  Later het my pa vir my verduidelik hoe werk sekere pille – en ek het dus vroeg al heelwat van die aktiewe bestanddele en hulle effekte op orgaansisteme geleer.  Later moes my pa vir my wys hoe “lyk” hierdie aktiewe bestanddele, en dis hier waar die Skeikunde toe intree.  Ons is af daar na oom Willem Durandt by Geen & Velleman Apteek toe om planttinkture te gaan haal.  Dit was die enigste apteek in Parys wat nog so verskeidenheid tinkture oorgehad het.  Die aand na-ure is ons daar uit met ‘n hand vol gebedelde houertjies sodat hy vir my die aktiewe bestanddele van “wys”.  Papierchromatografie was dus my nuwe ekspoprojek.  Ek het my ou hamsterhok met foelie bedek, my vistenk se lig uitgehaal en ‘n ultravioletgloeilamp daarvoor gaan koop by oom Sarel se sekuriteitswinkel, Parys Sekuriteit.  Dis daai pers ligte wat hulle nou in die parties gebruik vir neon kleure.  Daardie tyd het ons dit gebruik om vervalsde geld op te spoor.  Ek het so gloeilamp gekort.  Met chromatografie het hy my die tinkture met alkohol laat skei op filtreerpapier en van die die aromatiese stowwe laat fluoriseer dat dit binne-in daai hamsterboks met die foelie om gelyk het soos ‘n hamster rave-party. Ek sal nooit die reuk binne-in daar hamsterboks vergeet nie.  Dit was ‘n deursigtige perspeksboks wat ons paar jaar tevore omskep het in ‘n hamsterhok, want my pa was te suinig vir ‘n nuwe hok by die pet shop.  So tussen die foelie het ek ‘n gaatjie deur die perspeks gelos waar mens in die donker boks kon inkyk na die “rave party”.

Hier val daar ‘n druppel gesmelte botter van my brood af op my papier en ek sien hoe trek die olie in die papier in.  My pa was al die jare reg.  Toe ek op my ekspoprojek vir my Chromatografie-projek nie ‘n erkenning kry nie, het hy my aangemoedig: “Toemaar Dieter, jy sal eendag besef watter kennis het jy hier opgedoen.”  Daai eendag is nou.  Want hier sit ek en dink aan die chromatografie om my – en hoe ek dit al ‘n leeftyd lank probeer baasraak – nou noem ek dit my werk.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *