Die Tolhuis

Dis snaaks hoe die lewe werk. Deur my studentejare in Bloemfontein het ek die koppie met die Tolhuis op in “die sisteem” iewers in ‘n studentehuis of so gekry. Ek kan nie presies onthou hoe nie, maar met “gekry” impliseer ek dat dit my eiendom is. En ek weet dit is my eiendom omdat niemand anders in al die jare die koppie terug-ge-“claim” het nie. Hy het toe dus myne geword. So deur die jare. Ek dink dit was iemand wat hom waarskynlik nie wou hê nie. Ek het gereken dalk was hulle saam met hulle eks-meisie van toe by die Tolhuis en het dus “per ongeluk” van die ding ontslae geraak by ons studentehuis of iets in die lyn. Hoe dit ookal is, vir jare nou al wonder ek waar is die Tolhuis (en waar presies is Ceres.) Ek weet dis in die Kaap iewers, maar jy weet mos, partymaal is iets vir jou interessant, maar jy kommer net nie genoeg daaroor dat jy jou “smaartvoun” uitpluk en dit Google om presies agter die kap van die byl te kom nie. In elkgeval. So was dit met die Tolhuis. Elke keer as ek my joghurt uit die groen koppie eet, het ek onderbewustelik gewonder waar is die Tolhuis.

Op een van my motorfietsekspedisies ‘n jaar of drie gelede het ek gedink ek het die plek ontdek.  Ek kon so vaagweg onthou wat op die koppie by die huis beskryf is, en onthou toe dis een of ander huis met ‘n restaurant en ‘n padstal, maar ek het Nieu-Bethesda te motorfiets besoek en ek kon toe nou nie onthou dat daar eintlik “Ceres” op die koppie geskryf staan nie. In elkgeval, dit was toe nou nie waar ek was nie. ‘n Paar dae later toe ek terug by die huis stop met my seergeskutte boude van die lang motorfietsrit van die Baai af was dit ‘n teleurstelling toe ek besef ek het nie die Tolhuis besoek nie, maar wel die Uilhuis in Bethesda. In my kop was dit iewers in die Kaap. En Noord-Kaap, Wes-Kaap, Oos-Kaap was tot redelik onlangse jare nog vir my as Vrystater maar redelik een streek. Die Karoo was “vêr” en die Kaap was “vrekvêr”, maar altwee was in die Kaapprovinsie.

Toe ry ek wragtig ‘n naweek gelede verby ‘n plek met die naam “Tolhuis” naby Ceres, my eerste keer daar, en ek kan nie onthou waar het ek al van die “Tolhuis” gehoor nie, maar dit klink so bekend. Ek kan wraggies net nie onthou van waar nie.

En hier eet ek vanaand twaalfuur my joghurt in die Tolhuis-koppie wat eens op ‘n tyd deel van “die sisteem” was en ek beleef so ietsie van my kosbare Sergeantstraat-dae in Universitas.

Partymaal kom die vreugde van die lewe uit ‘n ou blikbeker.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *