Met my fiets ry ek so in my studiebreek gou hier teen Leeukop se Kloofstraat op. My bene skree al vir oefening met al die geleerdery. Dis half sewe so die karre wat so langs my verbyjaag wil seker die wind daar anderkant gaan vang of iets… soos ek ook seker maar. En so nou en dan sukkel daar ook ‘n wit volgelaaide wit toyota Uberkar met buitelanders in verby my met die petroldampe wat agter hom aanwaai.
Maar ek wil nes ‘n meerkat ook gaan sien hoe lyk dit nou hier teen Leeukop na die brand eergistraand.
Daar langs Leeukop gekom waar die Vida-trokkie altyd staan, ruik jy basies maar net rook, smeulende graspolle versprei hier en daar en dis swart verder soos wat jy kan sien voor jou. Kaapstad lê ver onder met sy pienkblou lug en die son wat agter my die Twaalf Apostels verlig soos een of ander toneel wat mens seker in die hemel ook sal sien.
Elke paar honderd meter staan ‘n brandweertrok of drie met Brandweermanne wat wag vir nog ‘n brand, asof hulle nog iets gaan kan red van onse Leeukop na hy klaar afgebrand is. Maar dis seker ‘n goeie ding hulle’s nog daar om wag te hou.
Voor my druk die Suidoosterwind donkergryswolke oor Seinheuwel se rug en laat dit lyk soos die vuur se rook, maar dis net wolke, gemeng met die reuk van rook.
My asem blaas soos die fiets die pad op trap so tussen die swartgebrande fynbos, en daar voor in die pad hardloop ‘n grys meerkat oor die pad en verdwyn aan die anderkant. Die eerste keer wat ek ‘n meerkat op die berg sien.
Om die draai daar voor sien jy net ‘n klein stukkie see onder jou met grys reënwolke wat ver oor die hele see strek en lyk of dit gaan reën aanbring, maar ek weet dit gaan nie. Ventusky sê so.
Op pad terug af kom af op twee ander grys Graatjiemeerkatte wat verskrik tussen die as vir my staan en kyk soos ek verby ry. Hulle doen nie eers die moeite om weg te hol nie, want dis te laat. Hulle kyk my aan met twee verslae gesiggies wat my laat dink aan die onheil wat party van ons partykeer onwetend aan ander doen, soos die brandstigters aan hulle.
Op pad af weet ek dis maar hoe die lewe is. Goed groei en dit brand af, en partymaal kan jy net mooi boggerol daaraan doen. En toe, om een of ander rede, dink ek aan die goeie Afrikaanse raakvatter:
Waar
daar
'n
rokie
trek...
brand
daar
'n
vuurtjie
/ \
| |
____\ /____
/\/\/\/\/\/\

Post mortem in swart en grys.
Oulik Dieter, ekt gewag vir die vergelyking tussen jou en die meerkat? Hehe
Jeanne-Marie! Ek wou dit nog vertel, maar toe dog ek dan deel ek veels te veel van my lewe met die publiek.