Wanted, dead or alive.

“Oh dear, what if you fall…

My dear, what if I fly!! “

Hier sit ek en luister na Bon Jovi se song, Wanted Dead or Alive na ‘n dag van 5 suksesvolle vlugte met ‘n Groovy Greek van Butler’s Pizza. Ek het nou 3 ure, 46 minute agter my naam. Wat ‘n gevoel… Om te ry op die wind. Drie weke gelede het ek gewonder wanneer gaan ek opstyg, en op daai selfde dag het ek gevlieg, die eerste dag by Meerendal Wynplaas my voete van hierdie aarde af gelig.

Die laaste paar dae is goed. Ek voel ook soos Bon Jovi: I’m a cowboy… on a steel horse I ride, I’m wanted, dead or alive. Dis nie heeltemal die gevoel in die lug nie, maar wel op my Vespa in die oggend op pad werk toe so deur die karre. So half asof mens windgat raak as jy weet hoeveel tyd jy in die verkeer spaar.

Die rede hoekom ek nie soos ‘n cowboy in die lug voel nie, is laas Sondag het ek twee noue ontkomings gehad met die glider, by Porterville area. So teen my laaste vlug die dag het die glider in ‘n “spiral” ingegaan omdat ek te skerp probeer draai het. Dis nou ‘n ding… as jy in ‘n parachute vasgestrap is en die ding begin spin met die een kant wat half “collapse” het. Dit swaai jou paar honderd meter oor plaaslande in die lug rond. In die agtergrond hoor jy hoe gee jou instrukteur raad en hy verloor heeltemal sy kalm oor die radio. “HANDS UP DIETER! HANDS UP! HANDS OFF THE BRAKES!” Paar sekondes later en ‘n ent laer maak die ding gelukkig vanself oop en ek hou op rondswaai. Die gliders is glo so ontwerp…om vanself weer oop te gaan as die een kant collapse en die “airspeed” tel op. Dis dié dat hierdie liedjie nou so lekker luister.

Met effens bewerige bene vlieg ek verder oor die plaaslande na die landing.

Nou dis hier waar die tweede noue ontkoming toe gebeur. Een van die doelwitte van die kursus is dat jy moet kan “spot land” in ‘n sirkel op die grond. So met die aankoms bo die land besef ek my hoogte is te veel en ek gaan “overshoot” en nie land presies waar ek moet nie.

Een van die beginsels van enige vlerk in die lug is dat dit lugspoed daaroor moet hê. Geen vlerk vlieg sonder lugspoed of “airspeed” nie.

Baie gefokus op my teiken, is ek toe ek reg bo die plek om te land, maar steeds ‘n bloekomboom of so nog te hoog. Stadig trek ek beide brieke om my “airspeed” geleidelik te verminder en hoogte te probeer verloor. Ek gaan al hoe stadiger in die Noordwind in en ek dink so op ‘n stadium, sjo, ek kom darm nou mooi stadig af.

En toe, ewe skielik bliksem ek ‘n halwe bloekomboomhoogte uit die lug uit met geen lugspoed bo my nie. Die glider het gaan stall bo my sonder enige “airspeed”. Soos ek af kom, dink ek net hoe ek gaan val dat ek nie iets breek nie. Daar’s nie eers kans om aan meer te dink nie. Ek tref die grond gelukkig met my voete eerste, bene effens gebuig en soos die res van my lyf teen die grond beland sien ek hoe die stof langs my opwaai.

Soos ek daar lê, effens deurmekaar en nie heeltemal seker wat nou net gebeur het nie, hoor ek hoe roep die ander ouens oor die radio vir Barry: Barry Barry, do you copy? One of your students are down! Ek staan op en ek dog my tibia is af of iets. Ek hoor hulle weer oor die radio: “He got up, but he’s holding his leg, I think he’s badly injured.”

Ek kry die radio beet en verseker hulle ek’s fine.

So deur die week raak die knie toe gelukkig beter tot ek vandag weer kansgesien het om te vlieg.

916 meter bo die see 600 meter bo onse harde grond het ek vandag weer gesweef op vlerke soos arende. Baie versigtig het ek die glider gedraai, en elke keer wat ek in ‘n warmlugstroom opgetrek is, het my hart in my keel begin klop en as ek die turbulensie in die vlerk voel, het ek my asem opgehou, maar elke keer trek dit jou amper ‘n honderd meter hoër in die lug op.

Elke landing het ek haarfyn bekyk, met genoeg spoed ingekom en my voete sag op die grond neergelê na die brieke aangelê is, naby die teiken.

So many things could go wrong.
But dear… I’m flying!

En dis hier waar Bon Jovi se ander liedjie nou begin speel….

“It’s my life… It’s now or never… I just wanna live that I’m alive!” en sy ander liedjie sit ek maar weer aan:

“…I still jive! Dead or alive!”

View from Piketberg Paragliding take-off.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *