Die Cous-Cousboks

23 April 2018

Die volgende stel ‘n dag in my lewe voor en illustreer waarom jy partymaal maar net moet lag, of “smile-and-wave”:
Jy tel een van jou tasse by die lughawe se turnstile op en sien CousCous krummels langs dit lê. Hierdie is een van drie tasse, want jy het die laaste paar goed van Bloemfontein op die vliegtuig in probeer smokkel Kaap toe.

Soos jy dit optel besef jy dat wat jy gevrees het, het toe wraggies gebeur. Jy loop maar aan asof niks snaaks lyk nie, maar jy besef so elke paar meter val daar ‘n krummel CousCous agter jou, soos een of ander feëverhaal wat jy uit jou kinderdae gehoor het…

Tuis gekom, probeer jy die einste tas (wat jy vir laaste gelos het) oopmaak. Dis egter moeilik om die rits los te kry, want jy het hom so vol probeer prop dat daar nie ‘n enkele onderbroek meer kan inpas nie. Soos dit oopskiet toe die rits uiteindelik laat skiet, skiet CousCous krummels soos Snap, Crackle en Pop by die tas uit.

Nou kom die volgende vraag by jou op: Hoe het die CousCous in my tas beland? Iemand het dit in my tas ingesmokkel?

Nee. Jy sien dit het als te doen met die dat ek niks wil mors nie. Dié boks CousCous is gekoop toe ek laasjaar daar by die Army se siekboeg gewerk het. Partymaal was dit en ‘n blikkie tuna met Chakalaka ‘n goeie middagete. Ek het egter moeg geraak vir CousCous en gedink ek sal dit maar vir iemand skenk of wag dat ek Chris weer sien, want Hy ken die perfekte resepte met CousCous. Die ou sit egter in Nelspruit en sedertdien smaak die CousCous ook sleg. Die tunablikkies was egter al op ‘n vorige geleentheid in my sak Kaap toe gesmokkel toe ek plek kon kry daarvoor tussen my klere. Maar die boks CousCous het in ‘n boks in my stort in Bloemfontein bly staan tot vandag toe ek uiteindelik ‘n plek vir dit kon kry tussen my goed.

Soos wat ons die reënbui die Kaap in vlieg met die grote oranje Boeing, gaan die boks natuurlik oop van al die geskud en daar het jy dit. Nou sal ek maar weer moet gaan CousCous koop, want Chris kom een van die dae kuier en dan moet daar CousCous wees. Hopelik kry ek dit die keer vinniger opgeëet. Want ek het darm nog die tunablikke wat saam met die krummels sou gaan.

#ultimate_van_suinig_wees #lagvandagvirjouself #jyverdienpartymaaleengoeielag

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *