Op ‘n sonnige Sondagmiddag (11 Junie 2023) op pad terug van Houdenbek af, besluit ek met my Nissan 1400 om nie deur die Hugenote tonnel te ry nie. Ek was nie lus om my asem op te hou vir die minuut en ‘n half wat dit neem om deur die tonnel te ry nie – want dis mos ‘n reël. Dit was glad nie omdat ek suinig was (is) vir die tolgeld nie, maar ‘n mens móét jou asem ophou met die deurryslag – soos ‘n goeie vry-duik sessie – wat ek ook nog moet gaan doen. Die Kaap is net te koud. En om dit te kan doen, moet ek seker eers die “Bobbing”-sessies gaan bywoon by Clifton saam met Theo, my buurman, sodat ek die koue kan gewoond raak. Dit gebeur Maandag en Donderdag-oggende sewe-uur. Maar gelukkig is dit nou winter. Die weer is te koud en renerig om skuldig te voel oor ek nie gaan nie. Maar hulle sê die winter is eintlik die beste tyd om te swem in die Kaap – iets waaraan ek nog (seker eendag) moet gewoond raak.
Jy sien, ek’s gewoonlik te gejaag om by die huis te kom na ‘n goeie naweek in die berge – of waarookal. Dis mos ‘n moet om so vinnig as moontlik weer te begin werk – of watookal. Dan neem ek maar die tolhek – dis nou deur die tonnel – die lang een – die Hugenote tonnel. En dis ook exciting, die hele asemophou en die ligte aanskakel en twee draaie deur die tonnel. Mens kan gewoonlik die sterretjies van uitpass begin sien voordat jy die lig aan die anderkant van die tonnel sien – dit hang af hoe lank voor die tonnel jy beplan het vir die event, want jy kan so rukkie hiperventileer, dan neem dit langer – die uithouvermoë.
Die Hugenote tonnel is wel nie die enigste een in dié area nie. Die Du Toitskloof tonnel is die ouer, korter een bo-op die berg op die pas, waarin daar nie 24-uur ligte, 34 kameras en ekstra ventilasieskagte is nie. Bobbejane versper ook partymaal die dié tonnel – ‘n teken dat dit nou minder in gebruik is. Dis die alternatiewe roete, die een sonder tolgeld wat die Franse Hugenote gebou het voor die Tweede Wêreldoorlog beëindig is. Jy betaal met tyd: tien tot twaalf minute om presies te wees, en die ekstra petrolgeld om jou motor teen die pas op te kry. Ek het al die ekstra petrol probeer bereken en die tyd wat ek spandeer teen ‘n chemiese patoloog se vergoeding, maar elke keer kom ek tot ‘n ander gevolgtrekking.
Soos wat ek toe met my Bakkie die pas opry in vierderat met die choke so effens uit, onthou ek ek het nog nie vir Marichen ‘n blom gepluk nie. Die (ongedokumenteerde) reël is, as ek alleen weg gaan oor ‘n naweek, kom ek terug met ‘n blom, enige grootte en enige kleur, maar ‘n fynbos-blom. Natuurlik as teken dat ek nie van haar vergeet het met die hele naweek-ekskursie nie. Gelukkig onthou ek van ‘n aftrekplek of drie aan Paarl se kant van die pas, waar ek vantevore al wou stop om te kyk wat gaan daar aan. “Ek gaan sommer daar ‘n blom soek”, dink ek. Soos ek bo-op die pas kom sien ek die swaar wolke van voorspelde front uit die weste. Ek’s sommer so effens in my noppies dat ek so ver in die lewe gekom het dat ek die Windy toepassing so goed kan lees op my foontjie dat ek ook al die weer kan voorspel. Gelukkig reën dit nog nie, maar die Kaapse wind het al begin opsteek.
Net na die uitkykpunt aan die bo-kant van die pas kry ek toe die afdraaipunt na die linkerkant van die pad. Knipmes in die sak is ek uit die bakkie en op met die berg. Met die ongunstige Kaap-weer is die stroompie by die aftrekpunt móói vol water. Ek loop en loop tot ek uiteindelik ‘n fynbos-plant so in die sterk Kaap-weer kry, knip dit af en afwaarts is ek so met die berg af op pad bakkie toe, blom in die hand. Die stroompie ruis hier langs my na die reën die naweek, amper meer as die wind, en oor een klip gly my nie-bergskoene so half onder my uit – ‘n teken van my gejaagdheid.
Soos ek onder by die gruis van die pad kom, hoor ek ‘n ruisgeluid. Eers dink ek dis die stroompie, toe wonder ek of die wind nog kwaaier raak, en toe voel ek ‘n ding of twee tref my teen die kop. Binne ‘n sekonde besef ek dis toe nie een van die twee nie, maar ‘n swerm heuningbye wat van my blommediefstal te wete gekom het. Hulle is seker deur die water uit hulle nes gejaag, en met my half-gejaagde blom-in-die hand trippel oor of om hulle, besluit hulle toe nou dié fynbos moet hulle beskerm! Binnekort besef ek, ek moet nou hol. Soos ‘n maer vark hol ek, blom in die hand af met Du Tuitskloof pas op die teerpad. Ek het gedink ek’s heel “al right” wat spoed betref, maar hoe vinniger ek hol, hoe meer besef ek, nie so vinnig soos die heuningbye nie. Hulle bly my tref teen die kop, dit voel of ek stilstaan. Gelukkig is my boskasie lank genoeg dat hulle nie ‘n steek teen my kop in kry nie, maar om een of ander rede kry ek hulle net nie weggehol nie. Die wind help ook nie regtig veel nie, want hulle hou by my by, of ek nou op of af hol, besef ek toe ek omdraai wind op. Net toe ek dink ek’s nou van die goed ontslae, en ek in my bakkie wou klim, kom die swerm weer by my uit, en die hele proses herhaal homself, met een uitsondering.
Hulle kon my nog nie oordentlik raakgesteek kry met my eerste weghol-sessie nie, maar met die tweede een, voel dit vir my hulle het nog meer tjommies bymekaargemaak, en met die aksie soos ek die goed uit my hare probeer skud, steek een my onder my kieliebak soos ek my arms optel, in die middel van die Du Tuitskloof pad. Gelukkig het ek dié maal toe nou van die groot gross van die swerm ontslae geraak, en ek skud nog so twee of drie halfdood bye van my af. In die proses het my bril ook nog afgeval en na ek dit so soek-soek langs my bakkie gekry het, klim ek terug en ry af met die pas. Voel so half of ek nou net uit ‘n oorlog kom, maar man alleen.
En net daar besef ek dis my tolgeld – tolgeld vir die blom.
