Vier vyf en veertig stap ek by die lab se deur uit hierdie Vrydagmiddag.  Op pad terug huis toe besef ek, my wêreld, maar die son is dan nog bo die leeu se kop, hoe kan mens so geleentheid laat verby glip.  Tuis gekom spring ek toe nou op my scooter en die ry so deur die vyfuur-Vrydagmiddagverkeer Kloofstraat op, want ek het nou tyd om my seisoenkaartjie vir die kabelkar te koop om die sonsondergang daar bo te kan gaan kyk.  Ek dog, dan kan ek mos daar bo rondhol met die son hier duskant onder my.  Ek stop toe daar by die kabelkar-geroer met die wit scooter, “Nee!” sê die man, “die laaste kar is al vyfuur op.”  “Vark se nek” dink ek, “nou waarom dan so vroeg toemaak.”

Ek ry toe maar so ent aan na die voet van Platteklipkloof waar ek die wit scooter stop en begin teen die berg ophol.  Vinnig besef ek weer hoeveel ek my fiksheid oorskat het.  Ek klim toe die berg so vinnig as wat my bene toelaat.  Halfpad op kry ek twee buitelandse meisies op pad af in die skemer. “Almost there!” moedig hulle my aan.  So paar treë verder dink ek, my Platteklip!  Ek’s dan nog nie eers náby bo nie, ek hyg so na asem, struikel omtrent oor elke derde klip, maar in elkgeval, hulle was darm vriendelik, iets wat jy in Kaapstad opreg waardeer.   Wraggies kom ek uiteindelik bo, lánk na die son agter die swart see gaan inkruip het.  Joh, die berg het ek darm nou gewys wie’s baas, dink ek.  Ek sal miskien selfs nou my seisoenkaartjie kan koop vir die kabelkar en afry met die laaste een.

“Nee!” sê die ou daar bo, “seisoenkaartjies kan jy net onder koop, maar jy kan ‘n “one-way ticket” af koop vir die laaste een, hy vertrek nóú!”  So besluit die suinige ou toe, ek sal maar te voet af loop teen die kloof, dis tog ‘n beter adventure en dis hier waar my nuwe “adventure” toe begin.

Met die sagte geruis van die Kaap se verkeer diep in die vêrte met Kaapstad se helder liggies wat skitter so onder die driekwart maanlig, sit ek toe my koplig aan en ek ontdek ‘n sprokieswêreld soos ‘n tuin of iets wat ons Vader vir my wou openbaar. Dis stil om my, geen person te vind op die berg nie en die waterstroompies se geruis van die week se reën raak al hoe duideliker.  Soos ek af stap, met kranse weerskant van my en die eggo van klein stroompies oor klippe wat my van elke kant bekruip, skyn ek my lig op en sien druppels soos diamante uit die lug val.  Soos my flits op hulle skyn, met ‘n krans wat hulle afgooi vêr van bo, skitter hulle soos verskietende sterre en pyl af reg rondom my.  Ek kry selfs een of drie gevang en ‘n paar vang ek mis en verkoel my warm gesig.  Ek stap toe verder af, en hoe meer ek rondkyk, met die helder groen fynbos hier om my, besef ek, as ek nou by die huis kom gaan ek hierdie neerskryf.

Flink stap ek nog so en toe ek weer kyk, besef ek, ek’s op die verkeerde pad.  Ek weet, want ‘n vorige keer het ons ook daar gestap en dieselfe vervlakse afdraai gemis.  Nietemin stap ek ‘n kort entjie aan om seker te maak ek’s nou op die verkeerde donker pad, en in die volgende kloof hoor ek ‘n geruis.  Dis nie die klein waterstroompies van bo nie, maar iets groter.  Soos ek nader kom en die gedreun volg, skyn ek toe my lig op en ontdek ek ‘n reuse waterval.  Op my verdwaalde pad!  Ek staan vir paar oomblikke daar en kyk weer op om die ding te bewonder, en reg aan sy bokant, vêr bo Kaapstad met al sy liggies, sien ek vier sterre, so helder soos min tevore, die Suiderkruis, en ek dink: Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is.” En vir Job: “Waar was jy toe Ek die fondasie van die aarde gelê het?”  En vir Dieter sê hy toe: “Jy wil My met ‘n naam probeer beskryf, maar soos ek aan Moses van ouds al gesê het: “Ek is.”

Ek stap verder af teen Platteklipkloof teen die hang van die voorkant van Tafelberg en my wit scooter wag geduldig in die driekwart maanlig waar ek hom gelos het.  Sewe vyf en veertig klim ek op hom en ry huis toe met ‘n natgeswete, koue langmou hemp, ‘n nuwe mens.