Het jy al ooit die agterkant van Tafelberg gesien?

Ek koop toe my Tafelberg jaarkaartjie, of soos hy sê “Cable Card” teen ‘n billike R 515.00.  Ek kry nogal 20 persent af omdat ek ‘n Kaapstad Groenkaard het.  Nie te sleg as mens in ag neem dat ‘n retoerkaartjie deesdae by die driehonderd en sestig rand rond draai nie.

So ek betrap toe die bekende kabelkar die namiddag teen tien voor vyf rond. Vyf minute daarna is ek bo met my ore wat drie keer op pad op toegeslaan het.  Wat ‘n ongelooflike belewenis.  Dis natuurlik waarom Kaapstad maandeliks by ‘n ganse een punt twee miljoen toeriste kry… of so hoor ek by ‘n Duitser wat noudie aand hier op my bank in my sit/leef-kamer oorslaap.

In elkgeval, ek begin toe draf daar bo, met die son so vyftien grade of so bo die see en die waterpoeletjies wat oralom my plas soos ek hier en daar een raak hol.  Ek wou graag by Maclear se Baken uitkom.  Dis die hoogste punt op Tafelberg (1084.6m) en omtrent twee punt agt kilometer van die boonste kabelkar stasie af, hang af watter roete jy volg.  Daar is twee.  Die een daar voor teen die berg dat jy vir almal onder in die stad kan waai, en in een van die mense se foto kan wees wanneer hulle vir Tafelberg afneem, of die agterste een.  Nou dis dié agterste een wat ek geneem het wat my laat voel het of ek deur die hemel hardloop. Dit is ook ‘n stukkie van die bekende Hoerikwaggo Voetslaanroete.  Hoerikwaggo is in Boesmantaal “die mense se pad” of iets in die lyn.

Hoe verder jy van die kabelkar af wegkom, hoe laer konsentrasie toeriste hol jy raak, totdat jy binne drie minute nie ‘n enkele mens om jou kan sien nie.  Jy hardloop met die son, seesand en die stad alles so neffens onder jou, maar in jou eie wêreld, daar bo in die lug, in Suid-Afrika se Moederstad. In die plassies water wat na die reën daar lê, sien jy die weerkaatsing van blou lig en die skaapwolke wat die hier en daar ‘n blou plas wit kleur en jou so vinnig herinner dat God nog vir jou lief is.  Op Slingsby se kaart het ek ‘n interessante baken, die Bergklub van Suid-Afrika se oorlog Gedenkteken, [1923] gesien wat ek graag wou besoek. Dis paar meter van Maclear se Baken af.

Die is die tweede keer wat ek hier by Maclear se klomp klippe uitkom en voorheen het ek gedink dis regtig niks om oor huistoe te skryf nie.  Dis ‘n mooi uitsig in ‘n 360-grade omtrek en jy kan die Kaapse Skiereiland so suid duskant van jou sien lê.  Na die ooste sien jy Nuweland en die hele Valsbaai en die res van die Kaap en so.  Jy sien ook Hangklip, die grote en die kleintjie.  Maar soos ek soek na die MCSA-oorlogbaken, vergeet ek om die uitsig om my te waardeer.  Ek kry die baken, en besef wat dié toe aandui, al die tyd van negentien-voertsek af. Neentien drie en twintig om presies te wees. En met die besef raak ek toe rustig.  Ek gewaar wat die Bergklub van ouds probeer uitwys het.  Dis ‘n toposkoop.  Topo is plek en ‘n skoop kyk jy mee.

Wraggies, dis hier waar ek toe besef, maar ek is daar waar Satan eeue gelede vir Christus geneem het toe hy Hom die wêreld gewys het.  Wat die toposkoop ook aanwys, is al die berge en pieke wat jy van dié punt af kan sien.  Dit begin by Riebeek-Kasteel wat 76km vêr lê, Groot en Klein Winterhoek, 115 en 113km onderskeidelik en dit gaan reg rondom jou, net blou berge soos wat jy kyk, Jonkershoek is reg Oos van jou, vyftig kilometer, Landdroskop, Somerset-Sneeukop, Moordenaarskop, en klomp ander koppe wat een of ander konnotasie het tot by Hangklip wat soos ‘n trofee in die Atlantiese Oseaan pronk.  Mens sal dink iemand is hier gehang en die se kop het toe gerol tot by die ander koppe, maar dis eintlik heel mooi van hier bo af.  Die areas wat jy kan sien van hierbo is Wellington, Paarl, Stellenbosch, Somerset-Wes, Strand en Gordonsbaai.  Aan die Noorde lê Bloubergstrand, Melkbosstrand, Yzerfontein en Langebaan en verder as dit kan jy nie juis sien nie.

Soos wat ek my verkyk aan en oor die toposkoop wat daar in ‘n klipstruktuur ingebed is, kom vier dramatiese Amerikaanse dames daar verby.  Ek kan sien hulle dink ek is so eienaardig soos wat ek dink hulle is.  En so kom my toposkoop bewonder-sessie ook tot ‘n einde.  Ek hardloop maar weer verder na die agterkant van die berg toe en dit is toe dat ek een van my eerste foto’s neem.

Rooi_blom_een

Ek wens ek kon ‘n interessante mediese storie of iets oor hierdie rooi fynbosblommetjie vertel, maar my kennis oor blomme is so skaars en min, soos my pa sal sê soos hoendertande. Paar oomblikke verder ontdek ek  ‘n ander wêreld, as daar nog ‘n wêreld op Tafelberg is.  Heel ander plantegroei omring my en ek stop toe maar elke twee minute om weer ‘n blom of drie af te neem.  Dis ook hier waar ek toe die Hely-Hutchinson- en Woodhead-dam in sig begin kry, die dat ek sê ‘n ander wêreld gaan toe oop.

Ek wens ek kon die blomme benoem, maar ek sal maar vir my professor of vir Chris moet vra.  Die draf teen die steilte af tot by die voet van die dam op die berg kry ek ‘n wildbewaarder en drie hippies wat hy touwys met iets probeer maak, hy wou nie meer uitbrei toe ek hom komplementeer oor sy mooi tou, maar dat dit te kort is vir klim nie.  Ek het so idee hy dra dit rond om soos Bear Grylls te lyk, maar ek wou maar nie meer uitbrei nie.  Ek hol net verder. Later kry ek ‘n mooi foto van altwee damme langs mekaar geneem.

Elke dertig treë besef ek hoe geseën ek is om hier te kan hardloop, maar my bene verlang terug na die Vrystaatse plak vlaktes, want hulle sukkel om by te hou oor hierdie steiltes en bulte van die ondergeskatte groote Tafelberg.

Dis nou hier waar ek sit, een uur die oggend, so ek pause my storie en sal dit later klaarmaak as ek weer voel ek wil iets neerskryf.  Daar’s nog ‘n foto en ‘n storie of drie wat kom in episode twee.